Deur Essie Bester

Die impak van afstandwerk, tegnologie en die vinnige pas van professionele omgewings laat baie van ons minder bekwaam voel rakende ons vaardighede en vermoëns.

Nuwe navorsing het aan die lig gebring dat slegs 4% van ons by die werk ten volle selfversekerd voel en kenners reken nou ons staar ’n vertrouenskrisis in die gesig. Volgens die studie erken 96% van werknemers hulle ervaar bedrieërsindroom en 53% sê dat hulle geleenthede van die hand wys weens ‘n gebrek aan selfvertroue.

Wanneer jy gevoelens van onsekerheid by die werk koester, maak jy dit vir jouself moeilik om op jou ontwikkeling en toekomstige sukses te fokus. Daarteenoor help dit jou, wanneer jy in jouself en jou vermoëns glo, om jou werksbevrediging te verhoog en maak dit van jou ’n veel gelukkiger mens, sê die loopbaanafrigter Kirsty Hulse.

Kirsty, wat ’n selfvertroue- en motiveringskenner is, sê baie mense dink aan selfvertroue as ’n eienskap wat sommige mense het en ander nie. Dit laat egter nie veel ruimte vir groei nie. Dis belangrik dat ons selfvertroue sien as iets wat ons doelbewus kan ontwikkel namate ons lewens en ons loopbane vorder.

Wenke wat kan help om jou selfvertroue en waarde as ‘n werkskandidaat ‘n hupstoot te gee sluit in:

  • Beskou selfvertroue as ’n gewoonte

Begin deur selfvertroue  as ’n gewoonte te beskou wat jy kan skep en waarop jy kan uitbrei deur konsekwente optrede – soos om aan die einde van elke dag drie dinge te erken wat jy daardie dag goed gedoen het, sê Kirsty.

Selfs op moeilike dae, wanneer jy voel dat jy in alles gefaal het, is daar steeds dinge wat jy goed gedoen het. Dit hoef nie groot of betekenisvol te wees nie. Begin deur kleiner doelwitte en realistiese verwagtinge te stel. As jy daagliks met hierdie praktyk volhou, sal dit mettertyd ’n gewoonte word wat jou selfvertroue sal verbeter.

  • Glimlag en let op jou postuur en stemtoon

Dis verbasend wat goeie postuur en ’n glimlag vir jou selfvertroue kan doen. Verder wil ons almal graag kalm en intelligent klink en respek afdwing. Luister na ’n opname van jou stem en oefen om probleemareas te verbeter.

  • Definieer selfvertroue

’n Persoon met professionele selfvertroue is nog altyd gesien as iemand wat onwrikbaar en ferm is. Soos werkplekke egter in meer outentieke, empatiese en mensgesentreerde kulture verander, begin ons selfvertroue ervaar as die vermoë om op te daag nes ons is, kompleet met ons twyfel, kwesbaarheid en alles wat deel uitmaak van ons menswees.

Besef eerstens dat daar geen regte manier is om selfvertroue uit te straal nie en vra jouself dan die volgende vrae:

Wie is ek wanneer ek op my selfversekerdste is?

Wat is die eienskappe wat ek vertoon wanneer ek selfversekerd voel?

Miskien is jou selfvertroue stil en bedagsaam, of dalk is dit openlik en charismaties. Wanneer jy eers bepaal het wat selfvertroue vir jóú beteken, sal dit vir jou moontlik wees om by die werk meer jouself asook meer selfvertroud voor te kom.

  • Vergeet jou vrese

Vrees staan dikwels in die pad van ons doelwitte: “Wat as mense dink ek is dom?” Gedagtes soos dié laat jou dikwels dom voel en ook so optree. Niemand hoef selfversekerd te voel om selfvertroue te hê nie. Om suksesvol te wees moet jy doodeenvoudig leer om by jou gevoelens verby te kom. Jy kan mense oortuig dat jy in jou vermoëns glo, al voel dit nie so nie.

  • Maak mislukking en kritiek deel van jou groeiproses

Mense met selfvertroue het nie tyd het om te sit en tob oor hul mislukkings nie. Hulle is te besig om die probleem reg te stel en daaruit te leer. Probeer dus volgende keer wanneer jy aanjaag onthou dat dit met enigeen kan gebeur en leer daaruit – in stede daarvan om jouself geestelik te beledig.

Net so wanneer iemand tyd neem om opbouende kritiek te lewer – dit beteken hulle is bereid om in jou te belê en glo dat jy dit volgende keer reg kan doen.

  • Gebruik jou senuweeagtigheid in stresvolle situasies tot jou voordeel

Jou hande begin bewe, jy raak kortasem en jou stembande trek styf wanneer jy op die punt staan om die lokaal vir ’n onderhoud binne te stap, ’n vergadering te lei of ’n aanbieding te doen.

Hierdie fisiologiese reaksies is natuurlik en word jou liggaam se veg- of vlugreaksie genoem – die manier waarop jou liggaam jou probeer beskerm teen dit wat as gevaar waargeneem word. Alhoewel dit ons ongelooflik goed sou dien as ons vir ’n wilde dier moes vlug, is dit nie so nuttig wanneer ons oor kwartaallikse syfers moet verslag doen nie.

Maniere waarop jy hierdie reaksie kan reguleer en jou liggaam kan laat weet dis veilig, sluit in:

Haal stadig, diep en doelbewus asem. Plaas jou een hand op jou diafragma en die ander op die onderkant van jou maag. Asem in vir ‘n telling van vier, hou vir ‘n paar sekondes, asem uit vir ‘n telling van vyf en herhaal.

Visualiseer ‘n positiewe uitkoms. In plaas daarvan om aan al die maniere te dink waarop dinge verkeerd kan loop, moet jy dink aan hoe ‘n ideale uitkoms vir jou sal lyk. Wees spesifiek. Dit mag dalk die positiewe reaksie van jou eweknieë wees of om daardie transaksie suksesvol te beklink.

En as jou senuwees tydens jou aanbieding weer die oorhand wil kry? Neem ‘n oomblik om diep asem te haal. Jy kan selfs aan jou gehoor noem dat jy senuagtig voel en hulle bedank vir hulle geduld met jou. Die meeste was al daar, dus is die kans goed dat jy ‘n paar gerusstellende glimlagte in ruil sal kry. Navorsing toon dat sosiale ondersteuning ons streshormone verminder.

Met oefening, geduld en volharding kan bogenoemde strategieë jou professionele selfvertroue ’n hupstoot gee sodat jy jou idees ten volle kan deel, nuwe geleenthede kan aangryp en op jou beste kan presteer.

Bronne:

https://www.linkedin.com/business/learning/blog/career-success-tips/3-simple-strategies-to-build-your-confidence-at-work

Confidence Tips for Work because it’s f*cking hard sometimes isn’t it

https://theeverygirl.com/5-ways-to-develop-confidence-in-the-workplace/

https://voelgoed.co.za/artikel/artikel_onderwerpe/artikel_self/artikel_hoe_om/hoe-om-meer-selfvertroue-te-he/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog