Volgens Artikels

Deur Reon Janse van Rensburg

Is dit moontlik om aan jou werk verslaaf te wees?

Die sielkundige Wayne E. Oates het die term “workaholic” geskep in sy boek Confessions of a Workaholic: The facts about work addiction wat reeds in 1971 gepubliseer is. Volgens Oates het werkverslaafdes ʼn tipe gevoel, ʼn drang of onbeheerbare behoefte om aanhoudend te werk, en nes ander verslawings het werkverslawing ʼn negatiewe uitwerking op ʼn individu se gesondheid en interpersoonlike verhoudings. Dit tas ook hulle vermoë aan om sosiaal te funksioneer.

Vir baie mense word die term van werkverslaafde met trots gedra, so asof dit ʼn prestasie is wat hulle behaal het deur meer tyd as wat nodig is aan hulle werk te spandeer. Hierdie term is dikwels sinoniem met toewyding, ambisie en inisiatief, juis omdat werkverslaafdes daarvoor bekend is dat hulle meer as hulle plig doen, en dikwels deur hulle bestuurders daarvoor geprys word.

Dit is om hierdie rede dat dr. Malissa A. Clark ʼn belangrike onderskeid tussen die terme werksverslawing en werkbetrokkenheid tref.

Volgens Clark word werknemers wat by hulle werk betrokke is, daartoe gedryf omdat hulle hul werk aangenaam vind, terwyl werkverslaafdes werk omdat hulle ʼn innerlike drang/kompulsie het om te werk.

Werkverslaafdes werk dikwels om hulle aandag van ander take of kwessies af te trek, hulle werk dikwels ongewone ure en is dikwels onbetrokke by hulle geliefdes of hul eie persoonlike lewens.

Hoe lyk die simptome van werkverslawing?

Werkverslaafdes spandeer buitengewone lang ure by die werk, en skeep ander verpligtinge en verantwoordelikhede af. Dit is egter nie moontlik om elke persoon wat lang ure werk oor dieselfde kam te skeer nie aangesien sulke gevalle dikwels uniek is.

Daar is egter ʼn paar kenmerke waarna ʼn mens kan oplet om te besluit of ʼn persoon aan sy of haar werk verslaaf is, naamlik:

  • erge paranoia en vrees oor hulle werksprestasie;
  • gee dikwels nodige slaap op om eerder vroeër te begin werk;
  • skeep hulle eie gesondheid en welstand af om eerder te werk;
  • werk lang en ongewone ure, selfs wanneer dit nie nodig is nie; of
  • skeep persoonlike verhoudings af, en sal belangrike gebeure in hulle persoonlike lewens misloop omdat hulle al hulle tyd aan hulle werk spandeer.

Hoe kan ek die probleem van werkverslawing oorkom?

Die eerste tree na ʼn oplossing is om te erken dat jy wel ʼn probleem het. Dit is dikwels ook die moeilikste tree. Bespreek die probleem met jou dokter of sielkundige omdat hulle gereeld met soortgelyke gevalle te doen kry. Indien die probleem werklik ernstig is, kan jou dokter dalk voorstel dat jy by ʼn rehabilitasieprogram inskakel, maar die meeste mense hoef nie hierdie pad te stap nie.

Die onderliggende redes vir werkverslawing kan oor die algemeen herlei word na ʼn gedragspatroon uit mense se kinderdae waar prestasie gemeet is aan werkprestasie. Indien jy as kind geprys is toe jy goed presteer het en hard gewerk het, het jy jouself waarskynlik buite jou perke dryf en na perfeksie gestreef om sodoende jou ouers se goedkeuring te verkry. In die proses raak ʼn mens eensaam en vervreemd, en die proses herhaal homself dikwels as volwassenes. By die werk wil werkverslaafdes met alle mag hulle bestuurders beïndruk.

Indien jy dink dat jy moontlik ʼn werkverslaafde kan wees, of voel dat jy meer balans nodig het, maak seker dat jy tyd inruim om ʼn verskeidenheid dinge in die lewe te ervaar. Sien jouself as ʼn waardevolle mens op ander terreine ook en nie slegs in jou werk nie. Ondersoek wat jou benadering tot werk bepaal het, en hoekom jy so gedrewe voel om te presteer. Nie net sal jy jou tyd in jou eie hande neem nie, maar sal jy ook jou verhoudings met mense, jou gesondheid en jou welstand die hupstoot gee wat dit verdien.

 

Bronne:

Work addiction is real – here’s how to kick the habit – https://www.atlassian.com/blog/productivity/work-addiction-is-real

Workaholics anonymous – https://www.news24.com/w24/SelfCare/Wellness/Body/Workaholics-anonymous-20080229

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog