Volgens Artikels

Deur Dr Eugene Brink

Dit is onteenseglik so dat vroue-entrepreneurskap steeds agterbly vergeleke met mans in Suid-Afrika en wêreldwyd.

Kulturele versperrings en verskillende verantwoordelikhede tussen die geslagte is maar net ʼn paar van die hindernisse in die pad van besighede wat deur vroue bestuur word. Covid-19 het nog ʼn hindernis by hierdie stand van sake gevoeg.

ʼn 2020-verslag deur Morning Consult het ʼn paar onthullende maar geensins verrassende bevindings gemaak oor die rolle van egpare wanneer beide ouers tuis werk nie. Wanneer byvoorbeeld gevra: “Wie dra tans die meeste verantwoordelikheid vir huiswerk, soos kosmaak en skoonmaak?” het 67% van vroue-respondente gesê hulle is verantwoordelik, maar slegs 16% van mans het saamgestem. “Om tydens Covid-19 jou ouerlike pligte na te kom is alreeds ʼn uitdaging, maar dit bring vroue wat ouers sowel as entrepreneurs is voor unieke uitdagings te staan,” sê Terry Rice, sake-ontwikkelingskundige.

Maar alles is beslis nie verlore nie en die pandemie kan inderdaad tot ʼn groot verstelling in entrepreneurskap lei, waarin vroue ʼn belangrike rol sal en moet speel.

Wêreldwye en plaaslike tendense

Wêreldwyd voer Westerse en ontwikkelde lande beslis steeds die botoon met betrekking tot die bemagtiging en groei van vroue-entrepreneurs.

Die Mastercard Index of Women Entrepreneurs (MIWE) toon dat lande soos die Verenigde State, Nieu-Seeland, Israel, Switserland, Kanada en Australië stewig in die saal is as die toppresteerders in hierdie kategorie. Dit is ook die lande wat bo-aan die lys is van elke denkbare ekonomiese ranglys en dit is veilig om aan te neem dat om vrugbare grond vir vroue-entrepreneurs te kweek die sleutel tot wyer ekonomiese vordering is.

Dit beteken nie dat Covid-19 nie ʼn skadelike impak op sake-ondernemings wat deur vroue bestuur word gehad het nie. “Die Covid-19-pandemie het ʼn disproporsionele impak op vroue wêreldwyd gehad – ʼn verbysterende 87% van vroue-eienaars van sake-ondernemings sê hulle is nadelig geaffekteer,” doen Mastercard verslag.

Suid-Afrika is hard geslaan deur Covid-19, maar behou – meer as die meeste ontwikkelende lande – ʼn sterk basis van suksesvolle en veerkragtige vroue-entrepreneurs.

Plaaslike sake-eienaar Yashmita Bhana het aanvanklik siviele ingenieurswese studeer en het na die mislukking van haar eerste sake-onderneming die Nihka Technology Group gestig. Tydens die inperkings in 2020 het sy aangepas om tydelike vrye toegang tot tegnologie-platvorms aan sake-eienaars te bied, insluitend ʼn aanlyn finansies- en voorleggingskryfprogram wat met WhatApp geïntegreer is. Daarbenewens het Yashmita 50 vroeë-kinderontwikkelingsentrums gehelp om tydens die drie-maande inperking aanlyn opleiding te voltooi en met ander maatskaplike projekte te skakel.

Jennifer Classen het Ngaphaya Y2K10 (of “Beyond 2010”) begin om tydens die 2010 Wêreldsokkerbekertoernooi hoë-gehalte industriële toerusting en produkte te verskaf. Tydens Covid-19 het sy haar infrastruktuur aangewend om ander sake-ondernemings te help, baie daarvan in besit van vroue, om essensiële produkte soos handreiniger te verskaf.

Bogenoemde is maar ʼn paar van die stories van vroue in Suid-Afrika wat die regte geleenthede en omgewing aangryp wat hulle gebied word. Daar is ontelbare meer plaaslike en internasionale stories van vroue-entrepreneurs wat nie net die pandemie oorleef om sterker aan die ander kant uit te kom nie, maar ook floreer en ʼn sneeubal-effek veroorsaak.

Rede tot hoop

Die MIWE 2020-verslag wys dat daar baie is om oor optimisties te wees, ondanks die uitdagings wat Covid-19 stel. “Vroue-wêreldleiers soos eerste minister Jacinda Ardern van Nieu-Seeland, kansellier Angela Merkel van Duitsland en die leier van Chinese Taipei dr Tsai Ing-Wen het die leierskap gevoer oor sommige van die suksesvolste pogings om Covid-19 hok te slaan, terwyl hulle orde, gerusstelling en kalmte bewerkstellig het,” lui die verslag.

“Met bykans die helfte (47.8%) van vroue-entrepreneurs wat bevestig dat hulle gedryf word deur ʼn begeerte om by te dra tot groter voordeel van die samelewing, kan die impak van hierdie leiers net nie onderskat word nie.”

Voorts meld die verslag dat vroue in die sakewêreld alreeds goed aanpas, ten spyte van omvattende versperrings tot sukses. “Op die voorste linie pas vroue-sake-eienaars met hernieude selfvertroue aan by die nuwe wêreld van werk. 42% het al na ʼn digitale sakemodel geskuif en 34% het al sedert die pandemie nuwe sakegeleenthede geïdentifiseer.”

 

Bronne

Mastercard, 23 November 2020, “Mastercard Index of Women Entrepreneurs: COVID-19 crisis could set-back a generation of women in business”, https://newsroom.mastercard.com/asia-pacific/press-releases/mastercard-index-of-women-entrepreneurs-covid-19-crisis-could-set-back-a-generation-of-women-in-business/.

Robert Abare, 17 August 2020, “How South Africa’s women entrepreneurs are leading responses to COVID-19”, https://www.accion.org/how-south-africas-women-entrepreneurs-are-leading-responses-to-covid-19.

Terry Rice, 7 October 2020, “Women Entrepreneurs Share How They Increased Revenue During Covid. And How You Can, Too.”, https://www.entrepreneur.com/article/356717.

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog