Deur Anja van den Berg

Groepaanbiedings is ʼn integrerende deel van talle mense se pligte. En tog ruim baie van ons nie die tyd in om deeglik voor te berei nie.

Allison Shapira merk op dat almal van ons al ʼn swak groepaanbieding ondervind het, hetsy as aanbieder of as lid van die gehoor. Shapira is die outeur van Speak with Impact: How to Command the Room and Influence Others.

“As jy een aanbied, is dit die laasteminuut-geskarrel die vorige aand om te besluit wie bied watter deel van die aanbieding aan,” verduidelik Shapira. “As jy ʼn waarnemer is, is dit die chaos om klompe mense te hoor wat oormekaar praat of, nog erger, eenvoudig hul skyfies woord vir woord lees en hul gehoor ignoreer.”

Om ʼn suksesvolle groepsaanbieding aanmekaar te sit, kos ʼn gesamentlike poging – maar dis die moeite werd, sê Shapira.

Sy verduidelik dat die kohesie van jou groepaanbieding vir jou kliënte ʼn aanduiding is van hoe die verhouding sal wees as hulle saam met jou werk.

As jou aanbieding onsamehangend en ongeorganiseer is, sal jou kliënt wonder oor die uitkoms van jou projek. As een spanlid tydens die aanbieding ʼn ander afjak, hoe sal jou span die kliënt se span behandel? Jy bied ʼn blik op jou werkverhouding sowel as op jou organisasie se vermoëns.

Om seker te maak dat jou span die bes moontlike indruk maak, beveel Shapira die volgende riglyne aan om slaggate in groepaanbiedinge te vermy:

  1. Skep die agtergrond

Voordat die aanbieding aanmekaargesit word, moet die groep diep delf en ʼn rasionaal vir hul aanbieding ontwikkel. Hulle kan dit doen deur as ʼn span op hierdie drie vrae in te gaan:

  • Wie is jou gehoor? – hulle sal jou aanslag en taal bepaal.
  • Wat is jou doelwit? – wat moet jou gehoor doen na jou aanbieding?
  • Hoekom is ons besorg oor hierdie onderwerp? – jou motiverings sal implisiet uitkom.
  1. Ruim tyd in vir voorbereiding

Beplan ruim vooruit en skeduleer ʼn repetisie om as ʼn samehangende eenheid te oefen. Dit is nou ook ʼn uitstekende tyd om te bespreek hoe vrae van die gehoor gehanteer sal word. Besluit wie watter  soort vrae sal beantwoord en stem saam oor wie van die spanlede vrae sal onderskep en aan die regte persoon sal gee om te beantwoord.

  1. Verseker ontwerp- en uitlegkontinuïteit by die aanbieding van skyfies

As ʼn groep mense saamwerk, moet een indiwidu gekies word om fonte, teksstyle en beelde bymekaar te bring. ʼn Onsamehangende skyfiedek verwar die gehoor, verloor hulle aandag en lyk onprofessioneel.

  1. Wys ʼn aanbieder aan vir elke spesifieke deel

Ruim tyd in om te besluit wie watter deel gaan dek en hoe daar van die een persoon na die volgende oorgegaan sal word. Moenie almal tegelyk praat of mekaar in die rede val nie. Wys een persoon aan om die skyfies vir die hele aanbieding te beheer sodat persone nie hul skerms hoef te deel nie.

  1. Onthou jy is steeds “aan” selfs as jy klaar is met jou aanbieding

Moenie vergeet dat jy steeds op die verhoog (of kamers) is as jy jou deel van die aanbieding afgehandel het nie. Behou jou professionele persona – moenie onttrek of begin om jou telefoon of e-posse na te gaan nie. Luister aktief na die volgende persoon wat praat.

 

Bron

Harvard Business Review: https://hbr.org/2021/11/3-group-presentation-pitfalls-and-how-to-avoid-them

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog