Volgens Artikels

Deur Anja van den Berg

Eerstekeer-indiensneming is ongetwyfel een van die grootste bekommernisse vir pas gegradueerdes. Maar selfs intreevlakposspesifikasies sluit vaardighede in wat geen pas gegradueerde jong persoon al sou kon bemeester het nie.

Selfs al sou ʼn potensiële werk tegniese vaardighede insluit wat in jou studies gedek is, sal die werkgewer waarskynlik gereedskap gebruik wat jy nog nie voorheen gesien het nie en staatmaak op prosesse buite dít wat jy bestudeer het.

Dit is nou volgens Art Markman, professor in sielkunde en bemarking en outeur van Bring Your Brain to Work: Using Cognitive Science to Get a Job, Do it Well, and Advance Your Career.

Markman voeg egter by dat net omdat jy nie al die kwalifikasies het nie, dit nie beteken dat jy nie vir die pos moet aansoek doen nie.

“As jy heeltemal gekwalifiseer is vir die pos waarom jy aansoek doen, het jy te laag gemik,” verduidelik hy. “Organisasies verwag van mense wat nuut is in ʼn rol (en veral mense wat nuut is in die firma) om in die pos in te groei. Hulle wil hê nuut aangesteldes moet baie vrae vra, mentors soek, en selfs ʼn paar foute maak namate hulle gewoond raak aan ʼn rol.”

Dit beteken jy soek na poste wat jou sal uitdaag, nie poste waarvan jy reeds alles weet nie. Hier is jou driestapplan om te besluit of jy vir daardie pos moet aansoek doen – selfs al sluit jou CV nie elke enkele vereiste in nie:

  1. Ontleed die posspesifikasie in daaglikse uitsette en gereelde vereistes

Lees die posbeskrywing deur en kry ʼn gevoel van wat iemand in die rol elke dag sal doen.

As die pos byvoorbeeld “ondervinding van openbare betrekkinge” vereis, kan jy dit met veiligheid in die volgende lys uitsette vertaal: skryf van persvrystellings, voorleggings aan die pers, en die ontwikkeling van sosialemedia-kopie. As die posvereiste sê “skryfondervinding”, kan jy dit dekodeer as die vermoë om bondig, oorredend en in goeie taal te skryf.

Nadat jy die posspesifikasie op hierdie wyse beantwoord het, sal jy ʼn akkurater idee hê van wat jy kan aanbied en watter vaardighede jy nie het nie.

  1. Ignoreer “bonus”-vereistes

Soms sluit ʼn posspesifikasie vereistes in wat ideaal sal wees maar vir ʼn enigmatiese, magiese aansoeker soos ʼn inkopielys sal klink. Ongelukkig skrik hierdie taktiek dikwels gekwalifiseerde kandidate af wat die pos sou kon vul.

Maatskappye gaan nie die aanstelproses vertraag totdat die ontwykende droomkandidaat aansoek doen nie, sê Sara McCord, redakteur van The Muse, ʼn aanlyn loopbaanplatform. Soliede, gekwalifiseerde aansoekers (soos jy!) kry ook onderhoude.”

McCord sê jy moet aan die posspesifikasie dink soos aan ʼn afspraakprofiel: “Ja, ek het een vriendin wie se man Frans praat, sy eie besigheid het, ʼn vlieënier is en deur ʼn religieuse liefdadigheidsorganisasie vrywilliger is by oorsese wese. Maar die res van die groep is heeltemal gelukkig met goeie vennote wat hulle reg behandel.”

  1. Verbind die kolletjies: oordraagbare vaardighede

ʼn Kritieke deel van die aansoekproses is om die kolletjies tussen jou ondervinding en die vaardighede wat die pos vereis met mekaar te verbind. In die werwingsbedryf staan dit as “oordraagbare vaardighede” bekend”.

Dink aan oordraagbare vaardighede as deel van jou loopbaan se gereedskapbelt. Oordraagbare vaardighede is bekwaamhede wat jy verwerf het deur in groepe te werk, vrywilligerwerk wat jy gedoen het, die voltooiing van internskappe, vryskutwerk, en nog meer.

Maak net seker dat jy nie te ver gaan met tersaaklike ondervinding nie, waarsku McLeod. Moet byvoorbeeld nie probeer verduidelik hoe baba-oppas jou as ʼn uitvoerende assistent bekwaam het                       omdat jy voorheen die skedulering van iemand anders se middag behartig het nie. Fokus eerder op hoe lesse uit vorige ondervinding in ʼn toekomstige rol van toepassing sal wees.

Prakties gesproke is dit vir byna almal nuttig om werkadvertensies te behandel asof hulle ʼn stel riglyne is vir waaroor ʼn pos gaan, en nie ʼn stel streng vereistes waaraan alle aansoekers moet voldoen nie. Dit is natuurlik kritiek om sommige van die vaardighede te hê wat ʼn pos vereis. “Maar,” sê Markman, “niemand moet hulself beperk slegs tot poste waarvoor hulle reeds oorgekwalifiseer is nie.”

 

Bronne

The Muse: https://www.themuse.com/advice/8-ways-you-can-still-land-an-interview-when-you-dont-meet-all-the-requirements

The Muse: https://www.themuse.com/advice/3-steps-to-applying-for-a-job-when-you-dont-meet-the-requirements

Harvard Business Review: https://hbr.org/2019/05/you-dont-need-to-meet-every-qualification-to-apply-for-a-job

FlexJobs: https://www.flexjobs.com/blog/post/transferable-skills/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog