Volgens Artikels

Deur Essie Bester

Om jou werk te verloor is, uit ‘n loopbaanperspektief, seker een van die slegste dinge wat met jou kán gebeur. Veral as dit onverwags en nie jou skuld is nie. Jou eerste instink is heel moontlik paniek. Daar is egter aktiewe stappe wat jy kan neem om jou finansiële posisie te beskerm en jou pad vorentoe te bepaal, sê Gareth Collier, direkteur van die onafhanklike finansiële beplanningspraktyk Crue Investment in Kaapstad.

Hier is wat jy moet doen:

  • Soek regskennis sodra jou werkgewer met afleggingskonsultasies begin. Die afleggingsproses word beheer deur die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, en dit is belangrik dat die regte prosedure gevolg word. ‘n Kundige in arbeidsverhoudinge kan raad gee omtrent jou afleggingsvoordele ingevolge jou dienskontrak en wetgewing. Terwyl jy geregtig is op minstens een week se betaling vir elke jaar van diens, kan jou dienskontrak dalk voorsiening maak vir ’n groter skeidingspakket. Benewens jou skeidingsvergoeding, is jy ook geregtig op verlof en kennisgewingsbetaling, ‘n pro rata deel van enige bonusse, kommissie- of aansporingsvoordele en jou aftreefondsvoordele. Jou werkgewer moet ook al die dokumente voorsien wat nodig mag wees om jou Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) -eis te vergemaklik.
  • Vra raad by ‘n finansiële kenner wat jou kan help om ‘n korttermyn finansiële strategie te ontwikkel wat jou beskikbare noodfinansiering, skeidingsloon, afleggingsvoordele, lewenskoste en skuldvlakke in ag neem.
  • Vind by jou werkgewer uit of jy ‘n voortsettingsopsie op jou lewensdekking het. Dit is belangrik om verseker te bly terwyl jy na alternatiewe werksvooruitsigte soek. ‘n Voortsettingsopsie sal jou toelaat om jou lewensdekking om te skakel na persoonlike dekking as jy die maatskappy verlaat, met die voordeel dat jy nie medies onderskryf hoef te word nie. Jy het gewoonlik 60 dae tyd nadat jy ‘n maatskappy verlaat het om jou voortsettingsopsie uit te oefen.
  • Die aftreefondsbedryf is geweldig ingewikkeld. Vind ‘n betroubare finansiële raadgewer om jou te help besluit wat jy met jou skeidingspakket en aftreevoordele moet doen. Hou in gedagte dat daar belastinggevolge kan wees as jy kies om jou geld te onttrek. Alhoewel kapitaalbewaring altyd belangrik is, kan jou finansiële omstandighede vereis dat jy toegang tot ’n deel van die geld moet verkry.
  • Oorweeg dit om jou mediese-skema-opsie af te gradeer totdat jou finansiële omstandighede verbeter. Gesels met ‘n kundige vir die beste raad.
  • Maak seker dat jou bank en krediteure van jou aflegging weet voordat jou debietorders of paaiementbetalings weier. As jy ‘n huislening het, kan jy met jou bank praat oor die herstrukturering van die lening, of om jou terugbetalings vir ‘n tydperk te verminder. Kyk of jy kredietlewensversekering het, aangesien baie van hierdie polisse voorsiening maak vir afleggings.
  • Registreer jou WVF-eis so gou as moontlik – hou in gedagte dat daar vertragings kan wees. Sorg dat jy die Artikel 189-brief van jou werkgewer, dienssertifikaat en skikkingsooreenkoms in jou besit het. Jy kan jou eis aanlyn indien by www.ufiling.co.za.
  • Vra jou werkgewer vir ‘n verwysingsbrief om by jou CV te voeg voordat jy die organisasie verlaat. Oorweeg dit ook om getuigskrifte (van kollegas, meerderes en kliënte) te bekom. Kry kundige raad oor hoe om ‘n professionele CV op te stel. Dateer jou LinkedIn-profiel op.
  • Kyk watter poste beskikbaar is deur soekenjins soos za.indeed.com, PNet.co.za en careers24.com te gebruik.
  • Wees strategies oor waarheen jy jou CV stuur, met wie jy netwerk en hoe jy jouself bemark. Doen jou navorsing oor die ondernemings waarin jy belangstel, en pas jou aansoek aan om spesifiek aan hul kriteria te voldoen.
  • Oefen hoe die onderhoud gaan verloop. Sorg dat jy voorbereid is en kan antwoord op die mees algemene onderhoudsvrae wat werkgewers vra. Wees ook bereid om onderhoudsvrae oor waarom jy jou werk verlaat het, te beantwoord.
  • Vind uit wat jy werd is. Jy gaan oor jou salarisgeskiedenis sowel as salarisverwagtinge uitgevra word. Gebruik salarisverslae, soos die wat deur PayScale.com aangebied word, om te bepaal wat jy werd is.
  • Neem die tyd om op te volg en bedank jou onderhoudvoerders so gou as moontlik skriftelik na die onderhoud. Dit kan veroorsaak dat jy ‘n tweede onderhoud of selfs ‘n werkaanbod kry. Boonop gee dit jou verdere geleentheid om jouself as kandidaat te verkoop. Verwys na spesifieke dinge wat in die onderhoud na vore gekom het en lê klem op die wyse waarop jou vaardighede en ervaring goeie pasmaats vir die posisie sal wees.

Moenie…

  • Jou aflegging persoonlik opneem nie. Die meeste maatskappye sukkel finansieel weens die inperking en afleggings is aan die toeneem. Poog om goeie verhoudinge met jou voormalige werkgewer en kollegas te bly handhaaf, en laat weet indien jy beskikbaar is vir kontrakwerk.

ʼn Skikkingsooreenkoms onderteken voordat jy regsadvies ingewin het nie. Terwyl die meeste werkgewers eties is, is daar tog werkgewers wat jou kan probeer indoen as dit kom by jou afleggingsuitbetaling.

  • Jou afleggingsvoordele as ‘n meevaller beskou nie. Neem ‘n langtermynbeskouing omtrent jou skeidingspakket en afleggingsvoordele. Dit kan ‘n paar maande duur voordat jy nuwe werk kry – kry onafhanklike raad oor hierdie fondse en gebruik dit verstandig.
  • Onberekende risiko’s neem nie. As jy van plan is om jou eie onderneming te begin, moet jy seker maak dat jy ‘n gedokumenteerde sakeplan in plek het wat realisties en uitvoerbaar is. Wees versigtig om in ‘n nuwe onderneming te belê, veral as dit in ‘n veld is waarvan jy geen kennis dra nie.
  • Val vir beleggingsbedrog nie. As jy gekies het om sommige van jou afleggingsvoordele te onttrek, kan jy in die versoeking kom om te belê in ‘n skema wat vinnige winste belowe.
  • Moedeloos raak nie. Dit mag langer duur as wat jy gedink het om ‘n nuwe werk te vind. Beplan vir ten minste ‘n ses-maande-oorgangstydperk.

Bronne:

https://www.ivyexec.com/career-advice/2019/5-steps-for-handling-a-forced-career-transition/

https://www.careertoolbelt.com/top-20-things-to-do-if-you-lose-your-job/

https://www.moneyweb.co.za/financial-advisor-views/retrenchment-the-dos-and-donts/

https://www.moneyweb.co.za/financial-advisor-views/what-to-do-if-you-get-retrenched/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog