Volgens Artikels

Deur Paul Maritz

Een massiewe voordeel van ’n formele kantooropset is dat dit jou as werknemer forseer om produktief te wees. Selfs op dae wat jy nie ontsettend energiek voel nie, is die oë van jou kollegas daar om seker te maak dat jy nie die hele dag op sosiale media spandeer nie, dat jy nie ’n twee-ure lange middagslapie neem nie, en sommer net dat jy jou besig hou met dít wat van jou verwag word volgens jou kontrak of prestasieooreenkoms. Die huis het dikwels ’n klomp goed wat ons aandag aftrek, en baie mense dui aan dat hulle produktiwiteit nie so maklik vanself kom wanneer hulle by die huis is nie. Hier is vyf stukkies advies wat jou die kampioen van afstandwerk kan maak:

  1. Maak seker dat jy genoeg suurstof kry!

Dit klink dalk eenvoudig of voor die hand liggend, maar baie van ons moes in die afgelope jaar ons spaarkamers of motorhuise in kantore omskep. Hierdie vertrekke is meeste van die tyd nie ontwerp of uitgelê vir iemand om nege uur per dag daar te sit en fokus nie. Moderne kantoorblokke is so ontwerp dat dit goeie ventilasie en moderne lugversorgingstelsels het, en die waaiertjie wat jy by jou ouma geërf het is ondanks sy beste pogings nie so effektief soos daardie stelsels nie. Maak seker dat jy jou brein voed met een van die belangrikste bestanddele vir produktiwiteit: vars lug.

  1. Genoeg beweging

Die kantooropset forseer jou dikwels om rond te beweeg. In die oggend stap jy van jou voertuig af na jou kantoor toe, die toilet is dikwels ’n hele entjie weg van jou lessenaar af, en die een of twee vergaderings wat jy per dag het forseer jou om op te staan, dalk ’n paar trappe te klim, en later weer terug te stap na jou kantoor toe. Skielik, met die koms van instrumente soos Zoom, Teams, Skype en vele ander, kan ons baie maklik ’n hele werksdag om sit. Ons hoef nie op te staan nie, ons klik maar net op die volgende skakel. Die voordele van rondbeweeg op jou bloedvloei en energievlakke is alombekend, daarom is dit nodig om jouself te forseer om op te staan en rond te beweeg as jy by die huis werk.

  1. Goeie roetine

Selfs maatskappye met ’n mate van fleksietyd dwing werkers om so bietjie in ’n roetine te kom. Die tradisionele werksdag van agt tot vyf veroorsaak dat werknemers se dag outomaties in ’n tyd vir werk, ’n tyd vir familie, en ’n tyd vir slaap verdeel word. Wanneer ons op ons eie roetine aangewese is gebeur dit maklik dat ons liewer so bietjie inlê en die dag effens later begin – die probleem is nou dat ander kollegas dalk al lekker vroeg aan die gang gekom het, so jy jaag die hele dag ’n klomp teikens na, en teen die tyd wat jy normaalweg huis toe sou ry is jy nog hard aan die werk. Sonder ’n baas wat oor jou skouer loer is dit nodig om jou eie baas te word, en jou roetine te reguleer.

  1. Gesonde eetgewoontes

Daar is dikwels ’n snoepie by groot kantoorblokke, of ’n winkeltjie nie te ver weg nie, maar omdat alles daar teen ’n prys kom koop ons dikwels net dit wat nodig is, of ’n klein lekkertjie.  By die huis is daar natuurlik ’n vol yskas, ’n paar vol koskaste, en die voordeel van afleweringsdienste sonder dat al jou kollegas sien wat jy sopas bestel het. Soos met baie ander sake forseer werk van ons huise af ons om meer as ooit te vore verantwoordelikheid te neem vir ons eetgewoontes. Miskien kan jy steeds jou kosblikkie pak, en dan niks anders deur die dag eet as dit wat jy vooraf besluit het om te eet nie.

  1. Sosiale kontak

Kollegas word vir baie mense na ’n ruk vriende en vertrouelinge, nie noodwendig net omdat mens elke dag saam met hulle werk nie, maar omdat jy saam middagete eet, dalk vinnig inloer in die oggende, en sommer net saamleef. Skielik is kollegas niks meer as gesigte tydens vergaderings nie, en dit kan maklik gebeur dat jy ’n week deurgaan sonder om met enigiemand anders as jou gesin te praat. Selfs wanneer jy dan met jou kollegas praat is dit altyd werk-werk-werk, en nooit daardie sosiale kontak wat alle mense nodig het nie. Reël ’n aanlyn vergadering net om te gesels, of spreek af dat die hele span ten minste een keer per week ingaan kantoor toe; sodoende sien jy darem mense.

Afstandswerk bied vele uitdagings, en dit gaan heel moontlik deel van ons lewens bly in die komende jare. Wanneer ons meer verantwoordelikheid het om na onsself en ons welstand om te sien is goeie inligting broodnodig. Pas jouself op, en help jouself om produktief te bly ten spyte van jou nuwe omstandighede.

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog