Volgens Artikels

Deur Nico Strydom

Die Covid-19-pandemie het tot gevolg dat baie meer mense aanlyn van die huis af werk en is die klem opnuut op bewustheid rondom kuberveiligheid.

Volgens berigte het kubermisdaad skerp toegeneem sedert mense weens die landwye afsonderingstydperk in groot getalle van hul huise af begin werk het. Jodi Hardy en Cindy Leibowitz van die regsfirma Webber Wentzel sê mense wat van die huis af werk in plaas van hul werkplekke af kan tot gevolg hê dat hulle makliker ʼn slagoffer word van kubermisdaad.

“Werknemers kan moontlik koppel aan onveilige WiFi-netwerke en persoonlike toestelle kan gebruik word sonder voldoende anti-virussagteware of ʼn brandmuur. Dit kan weer veroorsaak dat indringerprogramme (“malware”) toegang kry tot die toestelle en die data wat daarop gestoor is en dit besmet.

“Die risiko bestaan ook dat werknemers toestelle wat werkverwante data bevat onbewaak in onveilige areas kan laat. Werknemers kan ook moontlik hul eie persoonlike hardeware, soos USB’s en hardeskywe, vir werkdoeleindes gebruik en dié toestelle is moontlik besmet.”

Volgens Hardy en Leibowitz kan mense ook hul persoonlike e-posadresse vir werksdoeleindes gebruik, wat ook ʼn kuberveiligheid-risiko kan inhou.

Dr. Martin Butler, senior lektor in digitale transformasie by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB), sê die gebruik van verskeie programme, soos videokonferensie-sagteware, bied die ideale geleentheid vir kubermisdadigers.

Butler raai mense aan om verskeie voorsorgmaatreëls in plek te kry om hul aanlynveiligheid te verseker. “Gebruik veilige en ingewikkelde wagwoorde en verander hierdie wagwoorde gereeld. Moet nie summier op enige skakels in e-posse en boodskappe klik nie en maak seker dat jou sagteware gereeld opgedateer word.”

Penny Futter, African Bank se hoof van inligting, sê internetbedrog, die verspreiding van fopnuus en ontwrigtende kuberaanvalle het baie algemeen geword.

“Gebruik multifaktor-verifikasie waar moontlik, waar jy jou gebruikersnaam en wagwoord kombineer met iets soos ʼn eenmalige wagwoord deur middel van ʼn toepassing op jou foon. Wees op die uitkyk vir slenters waar kubermisdadigers jou gebruikersname en wagwoorde probeer bekom. Maak seker jou WiFi-netwerk by die huis is veilig en hou jou werksomgewing privaat.

Volgens Futter moet mense uiters versigtig wees vir enige verdagte e-posse of ander elektroniese aktiwiteit wat op hul skerms, selfone of e-posse kan verskyn. “Moenie daarop klik of enige inligting verskaf nie. Internetbedrog is baie algemeen en jy moet enige verdagte boodskappe of gebeure aan jou werk se IT-span deurgee.”

 

Bronne:

Webber Wentzel: https://webberwentzel.com/Pages/default.aspx

USB: https://www.usb.ac.za/

African Bank: https://www.africanbank.co.za/en/home/press-releases/

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog