Volgens Artikels

Deur Mandy-Michelle Thackwray

Dit voel nie meer of ʼn mens deesdae die werkjaar rustig kan begin en dan stelselmatig al hoe besiger raak totdat jy vroeg in Desember begin afskaal nie. Daar is nie meer so iets soos “Op jou merke! Gereed! Gaan!” nie. Daar word van ons verwag om op volspoed weg te spring en om dan boonop dié pas regdeur die jaar vol te hou.

Hierdie druk veroorsaak stres, konflik, uitbranding en verskeie ander gesondheidsprobleme. Werkende mammas ondervind veral skuldgevoelens en angs dat hulle nie genoeg tyd aan hul gesin afstaan nie en dat hulle nie meer ʼn lewe van hul eie het nie.

Wanneer ons hierdie druk, spanning en stres ervaar, is dit moeilik om positief en optimisties te bly. Jou gesin ly die ergste hieronder en dit voel vir jou of jy besig is om jouself te verloor.

Hier volg ʼn paar wenke oor hoe jy jou energie beter kan fokus sodat jy meer produktief kan wees en die beste mamma en vrou wat jy wil wees, kan wees:

  • Aanvaar die situasie

Dit help nie om jou op te werk en ongelukkig te raak nie. Deur te fokus op die probleem, gebruik jy energie wat beter aangewend kon word. Aanvaarding beteken nie dat jy opgee nie. Dit beteken net dat jy die keuse maak om jou energie doeltreffend en positief aan te wend. Hou jou werk by die werk en die huis by die huis.

  • Dink na oor en erken die emosies wat jy ervaar

Jy mag dalk oorweldig voel en dalk twyfel jy of jy in staat is om te doen wat van jou verwag word. Navorsing toon dat dit beter is om te erken hoe jy voel as om jou gevoelens te onderdruk en om net na oorlewingsmodus oor te skakel. Identifiseer die gevoelens soos kommer, moedeloosheid en dies meer en erken dit teenoor jouself.

  • Oefen jou keuses uit

Besluit om nie die slagoffer van jou omstandighede te wees nie. Aanvaar dat jy nie altyd in beheer van ʼn situasie is nie, maar dat jy wel meer beheer oor so ʼn situasie kan kry deur sekere keuses uit te oefen. Maak tyd om jou prioriteite uiteen te sit, te beplan en maak ook daarvoor voorsiening om na jouself te kyk.

  • Kommunikeer met jou kollegas en geliefdes

Party mense kan vir jou energie gee, terwyl ander jou energie kan tap. Bestee meer tyd aan diegene wat vir jou energie gee en wat vir jou ʼn bron van ondersteuning bied. Vra hulp indien dit nodig is.

  • Beding nuwe tydlyne

Maak seker jy verstaan die omvang van jou take sodat jy kan besluit oor hoe dringend die take is en hoe om hulle te prioritiseer. Moenie skroom om nuwe tydlyne voor te stel as dit van toepassing en nodig is nie. Jy moet ter wille van effektiewe beheer oor situasies gerus wees in die wete dat jy dít wat jy belowe het om te doen, sal kan doen

Doen jou bes en wees tevrede daarmee. Jou produktiwiteit en geluk by die werk hang af van die keuses wat jy elke dag moet maak. Kies dus om uitdagings te gebruik om jouself te ontwikkel, jou uit te daag en om só jou volle potensiaal te ontsluit. Gaan daarna huis toe en druk jou kinders styf vas.

 

Teken aan

Registreer

Wagwoord vergeet

Kitssoektog